Thursday, October 13, 2011

Marius Steenkamp

En toe was daar Marius Steenkamp. Hoekom hulle hom ooit aangestel het sal niemand weet nie, maar hy was dwars teen alles. 

Kom daar aan in ‘n wit Volkswagen Beetle sonder knaldemper en gaan parkeer heel eerste voor die hotel en stel homself vrolik aan die res in die kroeg voor. Dis iets wat jy net nie gedoen het nie.

Hy doseer SOS, Sosiale Studie wat ‘n mengsel van geskiedenis en aardrykskunde was. Ek geniet hom elke oomblik en leer soveel. Toe in standerd 8 moet ons ‘n taak doen. Almal kla en kerm en hy sê toe:”Ok, dan tog, skryf net oor wat jy wil..” 

Almal gryp die Landbouweekblad en die Bloedsappe die Farmer’s Weekly en produseer kleurvolle boeke oor “skaap en wol”, “Die vleis mark”, “Saaiwalle”..

Arme dorpsoutjie is alleen en verwese, niks om oor te skryf nie..maar lees baie en trek dwars en skryf toe ‘n dik polities onkorrekte boek oor: “Die voordele van Kommunisme”. Mooi versier met ‘n hamer en sekel op die voorblad.

In normale omstadighede sou so ‘n outjie verguis word en druip. Marius roep my: ”Jy weet nie wat jy gedoen het nie..ek is trots op jou en jy gaan dit voor die hele klas voordra!”

‘n Lewens veranderende oomblik.

Dit is 4 jaar later, Paasnaweek, Pretoria, Marius laai my op by die Lugmaggimnasium. Ons gesels dwarsdeur die nag, hy laai my by my Ma af, ek sien hom nooit weer nie...sy impak bly vir altyd..

No comments:

Post a Comment