Tuesday, May 8, 2012

Willem Cloete



Oupa Schalk en Willem Cloete

Schalk (Naauwte) Burger

Danie Brink se storie oor Willem Cloete het my gedagtes los gemaak oor dié man. Willem het by oupa Schalk Burger groot geword. Die presiese omstandighede weet ek nie of dalk onthou ek dit maar net nie. Wat ek wel onthou is dat my ma vertel het dat Willem redelik klein was toe oupa hom ingeneem het en dat hy amper soos `n kind in die huis groot geword het. My eerste herinnering aan Willem is dat hy oupa Schalk se Switserse bokke gemelk het en die groentetuin bewerk het, alles op Oupa se erf daar langs die watersloot. Ek dink hy het ook in die kombuis gewerk.

Ek het op twee foto`s afgekom wat elkeen sy eie storie vertel. Op die eerste foto is oupa Schalk, sy jongste dogter Susie en sy derde vrou, ouma Lenie, met Willem voor. Ek skat die foto is in die vroeë dertigs geneem met Willem so ongeveer ses jaar oud. Hulle is op pad êrens heen, dalk om vir tant Susie kollege toe te neem. Die motor dink ek was `n Chev. Daardie tyd het motors nog nie kattebakke gehad nie nie maar `n  karet waarop die bagasie vasgemaak is. Ek kan my net indink hoe vol stof die bagasie geword het! Dit lyk darem of die onderste twee stukke bagasie in  goiingsakke toegemaak is. Daardie jare was daar nog baie hekke op die paaie en ek dink dit was seker Willem se taak om hulle oop te maak.
Die tweede foto is ongeveer in 1940 voor Oupa se huis in die straat geneem. Willem was waarskynlik toe so 13 jaar oud. Die soutbosse langs die watersloot is duidelik sigbaar. Baie van Oupa-hulle se familiefoto`s is op presies hierdie plek geneem, seker maar omdat die soutbosse darem `n soort van natuurlike agtergrond verleen het.

Ek onthou ook dat Willem later jare `n leke-prediker by een of ander sekte geword het. Ek wonder of iemand dalk weet of Willem nog enige naasbestaandes het.    

Saturday, March 10, 2012

Surprise parties


Annien Kriel

Dit was ‘n regmakery vir ‘n vale wanneer “surprise parties” op die plase in Vanwyksvlei gereel is.
Hare is gewas met varswater uit die reenwater tenk (slegs beskore vir hare was, boontjies kook en kar was)  en die nuwe rok wat my ma gemaak het sit net reg vir wanneer die een my kom oplaai.
My ma het die rok gemaak van 3 jaarts material wat sy by Oom Piet Smit se winkel op die dorp gekoop het. Jy kry die net in 3 jaarts lengte.  Mens koop dit nie van ‘n rol af soos in die stad nie. 3 jaarts is gewoonlik te veel vir ‘n rok en dan bly daar nog material oor.
My ma kom nou uitgetrippel uit die kombuis uit om die een wat my kom haal te kom groet. Vinnig ‘n nuwe skoon voorskoot aangetrek en maak haar verskyning op die stoep. “Middag kind, hoe gaan dit” Ek vang so na my ma toe en sien sy het die voorkoot aan wat sy van die oorskiet lap van my nuwe rok gemaak het. Ek voel ofdie aarde my kan insluk.
Afstande was soms maar ver.  Hy ry 80km om my te kom haal. Die partytjie is 10 km anderkant hulle plaas so, ons ry dan 90 km tot by die partytjie.  Dieselfde afstande word nou weer vannag na die partytjie afgelê.  Partykeer gebeur die dat hy net betyds terug is op die plaas voor die koeie ingejaag word om gemelk te word.

Krullers


Annien Kriel

“Engel, wat se goed is die?” kom dit uit die slaapkamer.  Pasgetroud trippel ek nader om die oorsprong van die vraag te ontrafel.
In die slaapkamer staar my eggenoot met ‘n frons op die voorkop na die bondeltjie op die vloer.  Pragtig toegedraai in ‘n mussie wat van oorskiet gordynmateriaal gemaak is (effe grys met blou en swart motiewe daarop) lệ my haarkrullers wat ek in die huwelik ingebring het.  Sulke groot groen en blou plastiek krullers (afhangende van die grote van die krul wat verlang word). Ongelukkig nie meer in die vorm toe dit in die winkel gekoop is nie, maar so effens gesmelt en misvormd.
“Verduidelik!” vra hy.  Nog steeds met die frons.
“Dis ‘n mussie.  Dis ‘n ronde sirkel met ‘n valletjie om met ‘n rek in.  Dit trek jy oor die krullers in die nag as jy daarmee gaan slaap sodat die nie uitval nie.”
“Nee.  Nie die mus nie.  Die krullers.  Hoe kry jy dit so?  Was daar ‘n brand in die koshuiskamer?”  Nog steeds die frons op die voorkop.
Ai, nou hoe verduidelik jy vir ‘n stadsjapie die  regmaak vir ‘n partytjie op Vanwyksvlei as die somtotaal van die krag op die plaas deur ‘n generator met 32volt Edison batterye verskaf word.
“Sien dis so,” probeer ek verduidelik.
“Daar is af en toe op ‘n Saterdagaand sulke 'surprise parties' by verskillende mense in die distrik in hulle waenhuise.  Partykeer met musiek met ‘n gramofoon gemaak of ander kere het van die mense  instrumente bespeel .  Oom Isak vd Westhuizen het die trekklavier gespeel.  Oom Koos Mostert die klitaar en oom  Koos le Roux die banjo.
Dis nie ‘n voorafbeplande ding nie. Hulle besluit sommer op die ingewing van die oomblik en dan bel mense mekaar op die lyne om te hoor wie kan kom.
Ons wat op die plaas is het nie 220 krag nie en is aan die weer uitgelewer met die gevolg is dat as jy jou hare gewas het kan dit naby middagete wees en die kans dat dit in die winters self sal droog word is skraal.  Die enigste oplossing is die Aga stoof. Dan gaan lệ jy op jou rug op die kombuisvloer op jou elemboe en druk jou kop in die oond.  
Ongelukkig is dit ook die tyd wat my ma en die bediendes  skarrel om die kos op die stoof betyds klaar te kry vir middagete.  Die braaiboud is amper gaar en le ¾ van die oond vol. In die ander gedeelte probeer ek nou my ingedraaide hare droog kry voordat  hulle my kom oplaai vir die partytjie.  Kort kort klouter iemand oor my om die patats of pampoen te roer of rond te skuif.  Intussen probeer ek die droogmaak  proses aanwakker  deur my kop dieper in die oond te druk, met die gevolg dat die krullers begin smelt van die hitte van die oond. Baie keer smelt die hare ook nog vas aan die krullers.”
Maar dis alles vir ‘n goeie doel. Want wie sal nou ooit kan dink dat die pragtige beehive tooisel, wild ge”tease” en dik gesprei vanmiddag nog ‘n oond met die braaiboud moes deel!

Tuesday, February 28, 2012

Die sondes van die '50s

Danie Brink:

My ma het meestal Sondae 'n blommerangskikking gemaak wat voor die preekstoel moes staan. Die Sondag moes ek die pot met blomme kerk toe dra. Amper by die kerk van die blomme toe uit. Ek gaan sit toe maar die pot voor die preekstoel en rangskik die blomme weer oor.

Na die diens sê my ma sy was so skaam vir haar rangskikking wat skeef was en met 'n groot gat in die middel. Ek het erken dat dit ek was wat dit oor gerangskik het. ( Die bekentenis het eers omtrent 20 jaar later gekom, toe kon of wou sy my nie meer klap nie.)


Willem Cloete was eers oom Schalk Burger se motor bestuurder. Later het hy by mnr. Sales in die garage gewerk. Nog later die kragstasie opgepas.  Wind-op het hy geruik na olie en ghries. Hy was baie fluks en voortvarend.   Hy staan eendag op die pastorie se windpomp platform. 


Toe hy opkyk sien hy die bo-punt van die wiel wat draai en die wolke wat verby trek en dog die pomp val om. Hy spring toe maar.  Gelukkig het hy niks oorgekom nie.  Die ander werkers (of was dit dr. Hattingh?) het blykbaar gesê gelukkig het hy op sy kop te lande gekom!

Die Skoolkoshuis (Goeiehoop Losieshuis) was 'n integrale deel van die ou VanWyksvlei. Die seuns wat in die koshuis gebly het, moes help met slag, bak ens. Groot Kobus Smit (algemeen bekend as Botterkop) het gestaan en brood knie. Deur die venster sien hy toe tant Anna du Preez se hanslammers en hanskalwers loop weer in die koshuis gronde.   Kobus met sy gespierde lyf, kon baie vinnig hardloop.  

Hy hardloop 'n kalf in, gryp hom met een hand aan sy stert (net daar waar die stert begin ). Met sy ander hand gryp hy die stert so halfpad af en slaan die kalf met sy eie stert en stuur hom by die hek uit. Kobus het sy hande aan sy voorskoot afgevee en terug kombuis toe gestap en aangegaan met die knie van die brood knie.  Die brood het pragtig gerys en die aand het al die koshuisgangers heerlik  aan die brood gesmul.

Toentertyd het ons dorp nog 'n nagwa gehad. Dit is deur twee muile getrek.  Een nag toe die nagwa by die meisiekoshuis se ”plek” staan,  het die seuns twee van die wa se wiele afgeblaas deur die “valves” uit te draai.   Die werkers moes maar  hul werk staak en die muile uitspan tot die volgende dag.  

Mnr Hauman was baie ontstig oor die stinkende ding wat by die dames kant en kombuis bly staan het. Ek dink nie die oortreders het hulle veel daar aan gesteur nie. Was seker al gewoond aan onderwysers wat ontstig raak,


En dan die 3e November,“Guy Fawkes” dag! Mnr Hauman het gepraat en vertel van die slegte Engelsman wat ons liewers moes vergeet. Die Dominee sou seker daarteen gepreek het as daar net die  gepaste teksvers was, maar elke jaar is dit herdenk met klappers, vuurpyle ens... Die groter seuns se bydrae was om die kerkklok te lui en iets weg te sleep.   

Oom Daantjie Harmse se geel padskraper was die groot doelwit. Hoe hulle die ding met sy raserige metaal wiele uit oom Daantjie se erf gekry het, was onverklaarbaar. Oom Daantjie was baie kwaai en het gedreig om met bokhael te skiet.  Tog het die skraper een “Guy Fawkes” dag in die pastorie se erf beland en 'n ander keer op die koppie net buite die dorp!

Monday, February 20, 2012

En ons was ook bietjie stout ook...


Miemie van Wyk

Ek onthou die dae van sykouse met nate…(wat gewoonlik skeef gesit het)  en hoede in die kerk.Met ons voorstelling het ek toe my droom hoed gekry. ‘n Bloue met sulke wasige plastiese kant krulle. Sjoe wat ‘n mooie hoed was dit nie…

Een Sondag sit ons meisies in een van die kort banke aan die regterkant onder die venster in die kerk. In die ry agter ons sit die seuns…ja ..ja almal koshuis kinders. Nou julle onthou seker daai lang toue waarmee die vensters oopgemaak is?

Terwyl almal staande sing maak een hier agter my daai tou vas aan een van die blou hoed se krulle…en ek voel en vermoed niks. Nodeloos om te sê watter verleentheid dit vir my was toe ek gaan sit en voel hoe my hoed van my kop aflig en so effe bokant my swaai. Daar was ‘n grootse gegiggel en ek glo nie ek het my nie verbeel nie, maar selfs Ds se gesig het so bietjie opgevrolik en ek was seker hy moes ‘n laggie onderdruk.

Die seuns het goed deurgeloop onder mevrou Reitz se tong… Ma Anna met haar fantastiese humorsin het gedink dis die grap van die jaar en ‘n goeie onderwerp vir my volgende opstel.

Dan was daar die metode om mevrou Reitz besig te hou terwyl ons gaan vrugte gaps.

Vroeg dag is dit afgespreek. Wasgoed sak reg. Irma Sutherland moet eerste deur die venster met die sak. Dan sal die res een een suutjies volg.Met die terugkomslag sal almal weer suutjies een vir een deur die venster gehelp word met Irma laaste met die wasgoedsak halfvol vrugte.

Maar wat maak ons met Mevrou Reitz wat so elke nou en dan kom loer of ons nie weer met iets “onheiligs” besig is nie?

Ons neem toe ‘n rol toilet papier en skryf ‘n grappie op elke blokkie en so na elke paar grap blokkies…”Ons is Lief vir Juffrou Reitz”….so hou ons aan en begin toe weer so netjies as wat ons kan die papier op die rol kry. Ek word afgevaardig om die punt met die eerste grappie tot by mevrou se deur te vat en dan af te rol met draaie deur die eetsaal, so ‘n “loop” die kombuis in en dan die gang af met weer so “loop” in die badkamer en dan in die juniors se kamer en daar stop ons.  

Hoe ek dit reggekry het om die taak met ‘n bonsende hart maar sonder onderbrekings te voltooi,weet ek tot vandag toe nie.Alles loop goed af en in die helder maanlig nag keer ons terug na die venster met ons smaaklike vrugte fonds. Een vir een klim ons deur sooooooooo bly ons het dit gemaak. 

Irma besluit om sommer so kop eerste saam met die sak deur te klim en toe sy en die sak so in die venster lê-sit gaan die lig aan en daar staan ‘n briesende mevrou Reits met bolle papier in haar hand.

Ons is soos lyke in ons beddens en distansieer ons van die gedoente toe Mevrou vra” Sutherland wat soek jy in die venster!!!!!!!!!” Irma antwoord , groot oog geskrik,” Haai mevrou ek weet nie toe ek weer sien toe sit ek maar hier”

Ons is aan Meneer Krynouw geraporteer en vir ‘n hele tydjie het die liniaal merke nog in die waaie van ons bene gesit.

Komaan ouens ek is seker ek was nie die stoutste in die skool…vertel bietjie van julle kattekwaad!

Monday, November 28, 2011

Ma, ek wens ek kon jou bel?


Sy was al amper te oud om nog ‘n baba te kry en die arme outjie maak dit net net en weeg in teen skaars 1.8kg. Geen broeikaste, hospitale, dokters in die Noordweste nie,  maar sy trek hom deur, sy het nooit opgegee nie. 



Die ewige student met eers BSc en  later op 60 nog ‘n BA en toe ‘n honneurs in Afrikaanse letterkunde afgerond met in haar 70s met Frans en bietjie Xhosa. Die duimdruk op ons gelos dat alles maar op die ou end afhang van harde werk.



Ek het 10 November 2011 oor jare beplan, vanoggend 05:30 op die bus by Menlyn geklim, Gautrein geneem, toe die Boeing 737... bos van die mooiste rose op die lughawe gekoop en vir haar hier in Stellenbosch waar sy groot geword, het gaan gee. (Sy het altyd die mooiste roostuin in Vanwyksvlei gehad!)



Ma, ek wens ek kon jou bel
     ~Mellet Moll

Jy was dalk meer as net 'n ma gewees
ek weet nie, maar ek dink so
dit was miskien bestem om so te wees
deur jou lewe en jou oë.

Jy het Stellenbosch jou leerplek gemaak
waar jy en ook ek, jou kind
dit wat die wetenskappe wakker maak
saam kon voortsleep in die wind.

En in Vanwyksvlei waar ons almal was
het jy ons grootworddae
dit wat so stil kon wegkwyn in die kas
gevoed met lewensvrae.
Later in Franschhoek se stiltetye
waar jy jou spore opsoek
in Europa en in landerye
was daar prentjies in jou boek.

Ek onthou Merrimanlaan se voordeur
hoe jy sou stap na Menlyn
hoe jy borduur en hekel tussendeur
en altyd opnuut begin.

Die nuwe Suid-Afrika het jou ontwyk
miskien het dit jou ontstel
want jy sou selfs dit soveel kon verryk
ma, ek wens kon jou bel.

Omdat 'n honderd jaar baie lank is
omdat die kinders nou getroud is
omdat ek my grootwordjare steeds mis
omdat ek ook eendag oud is.

Blomme op my Ma se graf
~ Mellet Moll

In roosmaryn haar stille nag
verswelg soos in haar dieper dors
die lelieblomme hou nou wag
sodat 'n skadu in die Spaanse nag
vasklou aan haar skemerkelk
in windverwaaide winterweer
waar God se blomme stil verwelk
en sy die tyd ontbeer:

So onvergeetlik was haar hart
in elke dag se tempering
die rondomtalies van haar smart
sou selfs die stom en seer seisoene tart
wetend dat haar oggendster
in wit gedaantes om haar dans
daar gaan sy nou op steiltes ver
is sy 'n blommekrans.

Haar yl gelaat het nou berus
besprinkel met 'n ander stof
die beddings om haar nag is knus
selfs in haar slaap sien ek die lae mis
wentel oor haar skemerland
in doodsverlate velde heen
haar spore steeds in sagte sand
en ek wat stil-sag ween.

Friday, November 25, 2011

Rinkink in Standerd 8


Izak Smit:

Daar is seker nog van die ouens, wat selfs ouer as ek en my klasmaats is, wat die geleentheid het om te kan meedoen aan die herinneringe uit ons prille jeug. Almal vertel en dis lekker om dit te lees.

Oor die skool onthou ek van oom Jasper wat altyd die houertjie met die kaas of die appels voor pouse kom neersit het. Ook hoe hy vir ons van die stoep af 'n paar ekstras kom aangooi het. Die meisies moes oom Jasper se sterk twak se ruik meer as ons seuns onthou, want hulle het elke dag daar langs geloop. 

Van die sangklasse het ek gehou al het ek nou nie 'n groot sanger geword nie. Verder onthou ek van die flieke wat ons in die skool gekyk het. Ek sal die ontkieming van die boontjie nooit vergeet nie! Wat status aanbetref - dit was die st.8-manne wat die projektor en luidsprekers moes opstel, ook by die fliek in die kerksaal. Ons het gewoonlik taamlik voor gesit en ek onthou ek altyd gesorg het dat ek langs Winston gesit het sodat ek hom kon vra "Wat se hulle nou?"

Van die rugby en netbal dat ons ons dae omgeoefen het en pale toe geskop het asof dit uit die mode sou raak. Verder dat ek in st.8 al vir die dorp gespeel het!

Verder onthou ek van die boeresportdae waar daar perderesies en gimkana was en ons ook geharloop het. Oom Gert le Roux was die aankondiger sonder 'n mikrofoon of megafoon. Ook van Sondae wat ek by die koshuisseuns gaan kuier het en hoe ons dan gaan donkies vang en gery het. Natuurlik het ons af geval en seker seergekry ook.
En hoe ek dan by die huis gekom het met my navyblue kortbroek vol donkiehare en stof.

Veder onthou ek dat ek 'n getroue lid van die biblioteek was wat 2 Engelse en 2 Afrikaanse boeke per week gelees het. Ons het baie fiets gery, daar was mos maar nie baie ander afleiding nie.Ons het oor en weer gekuier - ek gereeld by lang Schalk Burger. Sy broer,Flippie, het vir ons gedemonstreer hoe om 'n gholfbal oor die telefoondraad te slaan, wat ons probeer nadoen het.Ek wil kom by die gholfbal- hoe ek een middag met die gholfbal hulle huis se voorruit uitgedrop het. Ons was maar vrek bang vir sy Pa.Daar was gelukkig nog van die glas en hy het dit vervang sonder dat hulle dit agtergekom het.