Thursday, October 13, 2011

Sonde met die Bure

Die nagmerrie was presies een week na my toekenning van die grootste ding wat ‘n jong outjie oor droom; jou bestuurslisensie. Net twee weke nadat ek terug uit Kaap gekom het na die matriekeksamens. Besig om onskuldig leeg te lê en gereed te maak om in opdrag van Oom PW die land en volk te gaan dien.

In die bloedige stryd tussen die Bloedsappe, wat net met Ford karre gery en by die plaaslike Standard gebank het, en die Nasionaliste, wat maklik 160 kilometer grondpad heen en weer na Volkskas gery het in hul Chevs, was ons gesinnetjie in die niemandsland tussen als. Mag nie kant kies nie en moes met ‘n Studebaker en Volkswagens ry.

Oom Hannes Walters was die lisensieagent van die provinsiale owerhede en hy vra. “Moet dit swaar of ligte voertuig wees?”

“Ligte voertuig Oom,” antwoord ek.

“Nee man, kom ons maak dit swaar voertuig, anders kom pla jy my net weer.”

Toegeken sonder slag of stoot of enige verkeerstoets ... maar wat die Oom nie aan gedink het nie is dat, anders as die plaaskinders, ek nog nooit my hande op ‘n stuurwiel gehad het nie ...

Toe bel die buurtannie. “Die Oom het gebel, die stroper se taaier is pap en kan jy nie gou ‘n nuwe een die plaas toe neem nie? Ek en die kinders ry sommer saam.” 

Die mense het ‘n hele nege kinders gehad en amper 50% van hulle klim saam in die blink-uit-die-boks grasgroen Ford V8, outomatiese Galaxy.

Ons vat die Kenhardt pad, maar na so twintig kilometer begin die Galaxy swaai op die pad. 


“Tannie,” vra ek. ”wat gaan dan nou aan?”


”Toemaar hy maak maar so, dis omdat dit so ‘n groot kar is.” 

Ons ry oor ‘n bultjie, voor in die pad sit ‘n reuse roofvoël, seker ‘n voorbode dink ek later. Die Galaxy verloor beheer oor homself, ek skop op die kragrem, sy stert swaai om en my laaste emosie is van ‘n onderste bo telefoonpaal ...


Die dak voor is heeltemal tot teen die sitplekke verpletter, juis daar waar ons koppe was. Ons breek die banke uit en kruip deur die agterste ruit.


Die plaas De Naauwte was so drie kilometer verder en oom Flippie sien wat gebeur en snel ons tot hulp. Die storie versprei oor die partylyne teen dubbel die spoed van witlig en met meer liegstories bygelas as selfs Twitter. Binne ‘n oogwink is die hele dorp daar!

Die polisieman, ‘n aflos ou want die dierbare Sersant van der Merwe (met die mooi dogters) was op verlof.

“Julle jong outjies f$%^&k ook alles op wat julle sien!” gil hy, “Kom sien my in die aanklagkantoor eerste ding môre dat ons ‘n SAP77 invul, jou vet gaan uitbraai!”


Almal staan rond, rokend aan Stuyvesant en praat agter hulle hande. My arme pa en ma daag op en weet nie waar om te kyk nie.

Ons gaan huis toe, my wit T hemp drup van die bloed, niemand vra hoe dit met my gaan nie. My dierbare ouers het dit daardie dag dit dalk dit nie so goed hanteer nie. 

Ek en die oom moet nou na Mutual in Carnarvon gaan. "Meneer die feit dat dit 'n ander drywer as oom was beteken dat ons twintig persent moet aftrek. verder was hy jonger as 24 dus nog twintig persent. O ... en ek sien oom het nie oom se premie betaal nie, ons sal dus niks kan uitbetaal nie."


Die Dominee en Mevrou, om hulle gewetes net skoon te kry, laat hul jongste se Sanlam studiepolis uitbetaal en net so oorbetaal vir die Galaxy.


Die wrede waarheid kom baie later uit, die nuwe Galaxy het sy ou voorganger Fairlane se horing ou gladde Firestones ge-erf. Die nuwe dak het ook baie minder gekos as die bydrae van Sanlam.


Rampe kom dikwels so mooi terug, "wat nie dood maak nie maak groot!" Ek betaal al my koste op die universiteit vir vyf jaar deur hard te werk en beurse te kry, student assistentskappe en gaan werk selfs by oorlede Dr Danie Craven vir 'n jaar lank. Ons het die ietwat eksentrieke oubaas "Die Aapman" genoem.

En my vakansies ondergronds op Copperton en saans laat by die Weerburo. Ons kom deur en is trots daarop vandag. Dis hoe jy groot word want die lewe is nie vir sissies nie. 


En toe, amper tien jaar later, ‘n telefoon oproep van die oorlede Oom se swaer. Hy kom na ons woonstel in Bellville. Hy gee vir ons ‘n koevert en vra dat ons dit moet oop maak as hy eers weg is. Oom Frans  was ‘n groot skrywer wat wêreld wyd gelees is en die Hertzogprys twee keer gewen het. Daardie dag het hy sy mooiste prosa ooit geskryf:

Standard tjek: "Betaal aan VDS Brink die bedrag van ... R..."




No comments:

Post a Comment