Oom Andries was ‘n man wat baie lief was vir gesels. Hy het
egter baie erg gehakkel en ons kinders kon soms nie ons lag hou nie. Eenkeer
het hy na Pretoria gery met sy ou plaas bakkie. Die bakkie se ligte het nie
gewerk nie en daar was baie ander foute ook. Op pad was hy baie eensaam en het
gewens hy het iemand saam met hom gehad vir geselskap.
Nie lank nie, of daar
is ’n ryloper langs die pad. Oom Andries stop dadelik en laai hom op. Toe die
jongman inklim, sê hy oom Andries moet maar sy beursie goed oppas want hy is ’n
sakkeroller. Oom Andries antwoord dat daar nie veel in die beursie is nie en
dat hy nou bly is om geselskap te hê op die lang pad. Namate dit later word
sien oom Andries dat hy vinniger sal moet ry om voor sononder by sy bestemming
te wees aangesien die bakkie se ligte nie gewerk het nie. So kom dit dat hy al
vinniger ry en nie lank nie of 'n spietkop vang hom vir spoed.
Toe die spietkop die bakkie nagaan, kry hy nog baie ander
foute behalwe die ligte, en alles word opgeskryf op die kaartjie wat hy vir oom
Andries uitskryf. Terwyl hulle hiermee besig was, het die ryloper uitgeklim en
na die spietkop se motorfiets gaan kyk en sommer so rondgestaan. Oom Andries
kry toe die kaartjie en hulle ry verder. Die oom is baie beswaard want hy weet
sommer dit gaan ’n stewige boete wees. Nie lank nie of hulle kom daar in die
voorstede en die ryloper wys ’n plek uit waar hy wil afklim.
Toe hy afklim, sê hy vir oom Andries: “Oom, ek het nie geld
om te betaal vir die saamry nie, maar vat maar hierdie,” en hy stop die
spietkop se kaartjie-boek met sy pen wat hy ongemerk vasgelê het in die oom se
hand. Die oom se verligting was groot want hy het nou nie nodig gehad om die
boete te betaal nie.
No comments:
Post a Comment