In my baie
vernielde kopie van JCS (Carel) Van der Merwe se boek Van Wyk`s Vley Estates 1880
tot Vanwyksvlei 1980 sien ek die onderstaande foto van Vanwyksvlei se
eerste krieketspan. Ek tel altesaam 20 ouens wat lyk of hulle wit klere aan het
en dus spelers kon wees. Definitief te veel vir een span en daarom dalk `n foto
van twee spanne wat teen mekaar gespeel het. Wanneer sou dit plaasgevind het en
wie was die ander span? En wie is al die manne op die foto? Ongelukkig sal ek
seker nooit weet nie maar dit neem my onwillekeurig terug na my veelbewoë
krieketloopbaan wat op Vanwyksvlei begin het.
Cedric
Alston was `n krieketgeesdriftige soos min en hy het, wat mens vandag dalk `n
krieketakademie sou noem, op die oop stuk grond noord van hulle huis, bedryf.
Almal wat wou, kon saamspeel en omdat ek en Winston groot vriende was, het ek
ook betrokke geraak. Ek kan nie meer onthou wie almal saam gejol het nie maar
ek dink Winston, Foden Dawson en Timothy en dalk Kosie Van Schalkwyk was die
meeste van die tyd by. Cedric het ons ook afgerig en in my het hy dalk `n
potensiële kolwer raakgesien want hy het hom toegespits daarop om my te leer om
vir `n vol bal vorentoe te speel en vir `n kort bal terug. En om kolf en
beenskut naby mekaar te hou.
Vir hoeveel seisoene hierdie akademie aangehou
het, kan ek nie onthou nie maar toe Cedric Hoër Jongenskool Paarl toe gaan, het
dit min of meer doodgeloop. Hy het in elk geval die toerusting soos kolf, bal
en beenskutte saamgeneem. Ek, Isak Smit en Gerhard Visser het nog so af en toe
met `n tuisgemaakte kolf en tennisbal ons krieketvernuf op die oop stuk veld
wes van die kerk probeer uitleef maar toe Isak ook HJS toe gaan, het dit ook doodgeloop.
En toe in
Standerd 7 kom meneer Krynauw as nuwe
skoolhoof op Vanwyksvlei aan en tussen hom, my oudste broer Hannes en oom Bill
Campbell kom daar toe `n krieketspan tot stand. Maar dis `n ‘dorpspan’. Die
skool het nie genoeg seuns vir `n skoolspan nie. Op `n manier word ek toe deel
van hierdie span en ons begin oefen in die net wat in een hoek van die
skoolgrond opgerig is. Oom Bill is die kaptein en onder die ander lede van die
span tel meneer Krynauw, broer Hannes, Louis Jacques Avenant, Billy Oberholser
en nog vyf ander wie se name ek nie meer onthou nie.
Ons eerste
wedstryd is teen Kenhardt op Vanwyksvlei op die skool se rugbyveld. Die
kolfblad is `n betonstrook met `n groen mat bo-op. Oom Bill het sy kolflys
bekend gemaak en hy en ek open die kolfbeurt. En ons kolf eerste. Oom Bill het
die eerste bal getrotseer en `n enkel lopie gekry en toe is dit my beurt! Ek
staan daar in my wit kortbroek en tekkies en probeer alles onthou wat ek in
Cedric se akademie geleer het. Die bouler (ek sou later hoor dat hy vir
Griekwaland-Wes gespeel het) kom ingejaag en ek sien daardie rooi bal glinster
en nieteenstaande my poging om dit te speel, by my verbyflits.
Ek het nog nooit
so `n vinnige bal gesien nie. Op `n manier slaan ek later `n vier van die man
af en toe, dalk as vergelding, boul hy `n bal wat dwarsdeur my verdeging gaan
en my tref daar waar dit saak maak. Nieteenstaande die stukkie beskerming is
dit vreeslik seer en kry ek darem bietjie simpatie van Oom Bill en die veldwerkers.
Ek skraap nog vier lopies bymekaar voordat die Griekwa-bouler my skoonboul. Agt
lopies in my eerste wedstryd.
Na die
wedstryd by die hotel sit die groot manne in die kroeg en ek alleen op die
stoep met `n Oros-en-limonade wat Oom Bill vir my gebring het. Ek weet nie
rêrig hoe ek oor hierdie eerste wedstryd moet voel nie maar die Griekwa-bouler
verlos my gou van my onsekerheid. Op pad toilette toe stap hy by my verby en in
die verbygang sê hy “Jy is nie `n aanvangskolwer nie. Jy moet laer af kolf.”
In die
1957/58-seisoen speel ons tuis- en wegwedstryde teen Vosburg, Carnarvon,
Brandvlei en Kenhardt. My gekneusde selfvertroue en waarskynlike gebrek aan
werklike talent laat my nie toe om ooit groot kolfbeurte te speel nie, al
probeer Oom Bill my op en af in die kolforde kans gee. Die patroon herhaal hom
later by HJS en in 2de en 3de spanne op universiteit en by krieketklubs. Was
die indruk wat die Griekwa-bouler se vinnige balle op my gemaak het
onderliggend hieraan ? Ek dink nogal so want elke keer as ek `n nuwe bal op
televisie deur die lug sien glinster, kry ek weer daardie gevoel op my maag.
Danksy die
entoesiasme vir krieket wat Cedric by my wakker gemaak het is ek nog steeds `n
getroue volgeling van die spel. Hy het my ook bekend gestel aan Charles Fortune
se krieketkommentaar en tot vandag toe glo ek dat Charles een van die heel
beste was.
Maar ek sou
darem graag `n foto van daardie Vanwyksvlei-krieketspan van 1957/58 wou hê!!
No comments:
Post a Comment