Miemie van Wyk
Ek onthou die dae van sykouse met nate…(wat gewoonlik skeef
gesit het) en hoede in die kerk.Met ons voorstelling het ek toe my droom hoed gekry. ‘n
Bloue met sulke wasige plastiese kant krulle. Sjoe wat ‘n mooie hoed was dit
nie…
Een Sondag sit ons meisies in een van die kort banke aan die
regterkant onder die venster in die kerk. In die ry agter ons sit die seuns…ja ..ja almal koshuis
kinders. Nou julle onthou seker daai lang toue waarmee die vensters oopgemaak
is?
Terwyl almal staande sing maak een hier agter my daai tou
vas aan een van die blou hoed se krulle…en ek voel en vermoed niks. Nodeloos om te sê watter verleentheid dit vir my was toe ek
gaan sit en voel hoe my hoed van my kop aflig en so effe bokant my swaai. Daar was ‘n grootse gegiggel en ek glo nie ek het my nie verbeel
nie, maar selfs Ds se gesig het so bietjie opgevrolik en ek was seker hy moes
‘n laggie onderdruk.
Die seuns het goed deurgeloop onder mevrou Reitz se tong… Ma Anna met haar fantastiese humorsin het gedink dis die
grap van die jaar en ‘n goeie onderwerp vir my volgende opstel.
Dan was daar die metode om mevrou Reitz besig te hou terwyl
ons gaan vrugte gaps.
Vroeg dag is dit afgespreek. Wasgoed sak reg. Irma
Sutherland moet eerste deur die venster met die sak. Dan sal die res een een
suutjies volg.Met die terugkomslag sal almal weer suutjies een vir een
deur die venster gehelp word met Irma laaste met die wasgoedsak halfvol vrugte.
Maar wat maak ons met Mevrou Reitz wat so elke nou en dan
kom loer of ons nie weer met iets “onheiligs” besig is nie?
Ons neem toe ‘n rol toilet papier en skryf ‘n grappie op
elke blokkie en so na elke paar grap blokkies…”Ons is Lief vir Juffrou
Reitz”….so hou ons aan en begin toe weer so netjies as wat ons kan die papier
op die rol kry. Ek word afgevaardig om die punt met die eerste grappie tot by
mevrou se deur te vat en dan af te rol met draaie deur die eetsaal, so ‘n
“loop” die kombuis in en dan die gang af met weer so “loop” in die badkamer en
dan in die juniors se kamer en daar stop ons.
Hoe ek dit reggekry het om
die taak met ‘n bonsende hart maar sonder onderbrekings te voltooi,weet ek tot
vandag toe nie.Alles loop goed af en in die helder maanlig nag keer ons
terug na die venster met ons smaaklike vrugte fonds. Een vir een klim ons deur sooooooooo bly ons het dit gemaak.
Irma besluit om sommer so kop eerste saam met die sak deur
te klim en toe sy en die sak so in die venster lê-sit gaan die lig aan en daar
staan ‘n briesende mevrou Reits met bolle papier in haar hand.
Ons is soos lyke in ons beddens en distansieer ons van die
gedoente toe Mevrou vra” Sutherland wat soek jy in die venster!!!!!!!!!” Irma antwoord , groot oog geskrik,” Haai mevrou ek weet nie
toe ek weer sien toe sit ek maar hier”
Ons is aan Meneer Krynouw geraporteer en vir ‘n hele tydjie het
die liniaal merke nog in die waaie van ons bene gesit.
Komaan ouens ek is seker ek was nie die stoutste in die
skool…vertel bietjie van julle kattekwaad!
No comments:
Post a Comment