Saturday, August 27, 2011

Vuur en Vlam

Van der Spuy Brink
Dit was so 1968 rond..en reg oorkant die kerksaal was 'n Mobil vulstasie. Tenklorries was nog nie uitgevind nie en petrol is in 44 gelling dromme aangery. Die drom is dan gekantel en die petrol loop dan in 'n groot tregter in die ondergrondse tenk.

Die outjie, so 18/19 jaar oud, staan en stry met die petrol man:"As die tenk vol is kan jy maar 'n vuurhoudjie hier in gooi, niks sal gebeur nie want daar is nie suurstof nie..". Niemand is slimmer oor chemiese ingenieurswese nie as 'n ou wat standerd 8 besluit het hy weet nou genoeg.

"Geen manier nie, dit sal brand en alles wat jy hier sien sal uitbrand!", is die mening van die ou hand in die brandstofbedryf.

"Ek wed jou 50 sent dit sal nie brand nie..", reageer mnr Slim toe. 

Net daar op die plek pluk hy sy boksie Lion's uit en trek die vuurhoudtjie  en gooi in die toe reeds vol tregter, net toe ek en my broer daar verby loop.

Daardie keer het sy idee van die wette van Chemie nie reg gewerk nie en binne sekondes staan die vlam 10 meter hoog.. Die petrol begin kook en die dampe spuit die lug in. Mense op plase 30 kilometer ver kon dit sien!

Almal jaag nader en bring die enkele brandblussers wat nie 'n duit verskil maak nie. Een wysgeer kry die idee om sakke vol koring daarop te gooi, maar ook dit doen nie veel nie. Die hele reuse tenk met derduisende liters petrol brand uit in 'n oogwink, die voorkant van die garage in puin en selfs 'n hele kar wat binne staan verskroei tot skroot metaal..

Die les....kinders speel nie met vuur nie!! 















No comments:

Post a Comment