Sunday, August 28, 2011

Wind en Weer sake

VDS Brink

Daar was die GROOT VLOED..meer daaroor bietjie later. Vir nou oor weersake want die Suid Afrikaanse Weerdiens in sy wysheid besluit om ‘n klas B weerstasie op die dorp op te rig. Dit is die grootste naas die soort wat jy op lughawens sou kry. Tannie Dave het dit bedryf en later Tannie van der Merwe waar dit sommer aan die Polisiediens gekoppel en was reg langs die kerksaal.

My slimme, en 10 jaar ouer broer, wat sommer later ‘n doktorsgraad los geslaan het, het dit as student as los werk gedoen. Van kleins af ek die meeloper en op die jeugdige ouderdom van 13 aangestel as die assistent weerleser. Vandag sou mens dit as kinderarbeid klassifiseer maar in die skadu van die SAPD was enigiets mos moontlik!

Soggens halfag in die bittere koue, of halftwee as die koppies dans van die hitte en dan weer halfag die aand die lesings geneem. Ingewikkelde dinge soos die wind wat gewaai het, die minimum en maximum temperature, die natbol meter en daai heel moeilikste van almal die barograaf.


In die winter met ‘n yster die 2 cm dikke yslaag op die verdampingsbak stukkend  moes slaan.. Dan die wolke verstaan, Cumulus, Nimbus en Stratus. Die mooiste van almal natuurlik die Cumulus Calvus ... 

Cumulus = stapel en Calvus = Aambeeld.

As als opgeskryf is, dit in ’n kode omgeskakel en die slinger gedraai. Oom Koot of Oom Billy antwoord flink met “Nommer asseblief?”. “Naand, Oom, kan ek MET kry asseblief”. Jy hou aan en almal word van die lyn afgegooi, Carnarvon antwoord, dan Beaufort en dan antwoord MET by die DF Malan Lughawe. Ek rits die nommers af en dit gaan in die ingewikkelde weerstelsel.

Dit van 1965 tot 1974 gedoen en toe aan Francois Burger oorgegee. Net een keer gemis, die aand van die ongeluk ... selfs die volgende dit oggend, al kruppelende, gaan doen!

Soveel geleer, soveel handige sakgeldjies verdien soveel aan my selfbeeld gedoen. Die tyd in die Lugmag was dit so handig om dinge te verstaan wat selfs hulle maar min van geweet het.

En Vanwyksvlei? Wel die koudste gemiddelde is Sutherland, die koudste plek Belfast, die warmste weer Onseepkans, maar ons het die rekord dat die koudste en die warmste die verste uit mekaar is.. -11 grade to 45 grade!



No comments:

Post a Comment