Saturday, October 29, 2011

Sakkerollery ~ (Klein) Schalk Burger


Oom Andries was ‘n man wat baie lief was vir gesels. Hy het egter baie erg gehakkel en ons kinders kon soms nie ons lag hou nie. Eenkeer het hy na Pretoria gery met sy ou plaas bakkie. Die bakkie se ligte het nie gewerk nie en daar was baie ander foute ook. Op pad was hy baie eensaam en het gewens hy het iemand saam met hom gehad vir geselskap.

 Nie lank nie, of daar is ’n ryloper langs die pad. Oom Andries stop dadelik en laai hom op. Toe die jongman inklim, sê hy oom Andries moet maar sy beursie goed oppas want hy is ’n sakkeroller. Oom Andries antwoord dat daar nie veel in die beursie is nie en dat hy nou bly is om geselskap te hê op die lang pad. Namate dit later word sien oom Andries dat hy vinniger sal moet ry om voor sononder by sy bestemming te wees aangesien die bakkie se ligte nie gewerk het nie. So kom dit dat hy al vinniger ry en nie lank nie of 'n spietkop vang hom vir spoed. 

Toe die spietkop die bakkie nagaan, kry hy nog baie ander foute behalwe die ligte, en alles word opgeskryf op die kaartjie wat hy vir oom Andries uitskryf. Terwyl hulle hiermee besig was, het die ryloper uitgeklim en na die spietkop se motorfiets gaan kyk en sommer so rondgestaan. Oom Andries kry toe die kaartjie en hulle ry verder. Die oom is baie beswaard want hy weet sommer dit gaan ’n stewige boete wees. Nie lank nie of hulle kom daar in die voorstede en die ryloper wys ’n plek uit waar hy wil afklim. 

Toe hy afklim, sê hy vir oom Andries: “Oom, ek het nie geld om te betaal vir die saamry nie, maar vat maar hierdie,” en hy stop die spietkop se kaartjie-boek met sy pen wat hy ongemerk vasgelê het in die oom se hand. Die oom se verligting was groot want hy het nou nie nodig gehad om die boete te betaal nie.

No comments:

Post a Comment