Sunday, October 30, 2011

Krieket op Vanwyksvlei - Schalk Burger


In my baie vernielde kopie van JCS (Carel) Van der Merwe se boek Van Wyk`s Vley Estates 1880 tot Vanwyksvlei 1980 sien ek die onderstaande foto van Vanwyksvlei se eerste krieketspan. Ek tel altesaam 20 ouens wat lyk of hulle wit klere aan het en dus spelers kon wees. Definitief te veel vir een span en daarom dalk `n foto van twee spanne wat teen mekaar gespeel het. Wanneer sou dit plaasgevind het en wie was die ander span? En wie is al die manne op die foto? Ongelukkig sal ek seker nooit weet nie maar dit neem my onwillekeurig terug na my veelbewoë krieketloopbaan wat op Vanwyksvlei begin het.

 

Cedric Alston was `n krieketgeesdriftige soos min en hy het, wat mens vandag dalk `n krieketakademie sou noem, op die oop stuk grond noord van hulle huis, bedryf. Almal wat wou, kon saamspeel en omdat ek en Winston groot vriende was, het ek ook betrokke geraak. Ek kan nie meer onthou wie almal saam gejol het nie maar ek dink Winston, Foden Dawson en Timothy en dalk Kosie Van Schalkwyk was die meeste van die tyd by. Cedric het ons ook afgerig en in my het hy dalk `n potensiële kolwer raakgesien want hy het hom toegespits daarop om my te leer om vir `n vol bal vorentoe te speel en vir `n kort bal terug. En om kolf en beenskut naby mekaar te hou.

Vir hoeveel seisoene hierdie akademie aangehou het, kan ek nie onthou nie maar toe Cedric Hoër Jongenskool Paarl toe gaan, het dit min of meer doodgeloop. Hy het in elk geval die toerusting soos kolf, bal en beenskutte saamgeneem. Ek, Isak Smit en Gerhard Visser het nog so af en toe met `n tuisgemaakte kolf en tennisbal ons krieketvernuf op die oop stuk veld wes van die kerk probeer uitleef maar toe Isak ook HJS toe gaan, het dit ook doodgeloop.

En toe in Standerd  7 kom meneer Krynauw as nuwe skoolhoof op Vanwyksvlei aan en tussen hom, my oudste broer Hannes en oom Bill Campbell kom daar toe `n krieketspan tot stand. Maar dis `n ‘dorpspan’. Die skool het nie genoeg seuns vir `n skoolspan nie. Op `n manier word ek toe deel van hierdie span en ons begin oefen in die net wat in een hoek van die skoolgrond opgerig is. Oom Bill is die kaptein en onder die ander lede van die span tel meneer Krynauw, broer Hannes, Louis Jacques Avenant, Billy Oberholser en nog vyf ander wie se name ek nie meer onthou nie. 

Ons eerste wedstryd is teen Kenhardt op Vanwyksvlei op die skool se rugbyveld. Die kolfblad is `n betonstrook met `n groen mat bo-op. Oom Bill het sy kolflys bekend gemaak en hy en ek open die kolfbeurt. En ons kolf eerste. Oom Bill het die eerste bal getrotseer en `n enkel lopie gekry en toe is dit my beurt! Ek staan daar in my wit kortbroek en tekkies en probeer alles onthou wat ek in Cedric se akademie geleer het. Die bouler (ek sou later hoor dat hy vir Griekwaland-Wes gespeel het) kom ingejaag en ek sien daardie rooi bal glinster en nieteenstaande my poging om dit te speel, by my verbyflits. 

Ek het nog nooit so `n vinnige bal gesien nie. Op `n manier slaan ek later `n vier van die man af en toe, dalk as vergelding, boul hy `n bal wat dwarsdeur my verdeging gaan en my tref daar waar dit saak maak. Nieteenstaande die stukkie beskerming is dit vreeslik seer en kry ek darem bietjie simpatie van Oom Bill en die veldwerkers. Ek skraap nog vier lopies bymekaar voordat die Griekwa-bouler my skoonboul. Agt lopies in my eerste wedstryd.   

Na die wedstryd by die hotel sit die groot manne in die kroeg en ek alleen op die stoep met `n Oros-en-limonade wat Oom Bill vir my gebring het. Ek weet nie rêrig hoe ek oor hierdie eerste wedstryd moet voel nie maar die Griekwa-bouler verlos my gou van my onsekerheid. Op pad toilette toe stap hy by my verby en in die verbygang sê hy “Jy is nie `n aanvangskolwer nie. Jy moet laer af kolf.”  

In die 1957/58-seisoen speel ons tuis- en wegwedstryde teen Vosburg, Carnarvon, Brandvlei en Kenhardt. My gekneusde selfvertroue en waarskynlike gebrek aan werklike talent laat my nie toe om ooit groot kolfbeurte te speel nie, al probeer Oom Bill my op en af in die kolforde kans gee. Die patroon herhaal hom later by HJS en in 2de en 3de spanne op universiteit en by krieketklubs. Was die indruk wat die Griekwa-bouler se vinnige balle op my gemaak het onderliggend hieraan ? Ek dink nogal so want elke keer as ek `n nuwe bal op televisie deur die lug sien glinster, kry ek weer daardie gevoel op my maag.

Danksy die entoesiasme vir krieket wat Cedric by my wakker gemaak het is ek nog steeds `n getroue volgeling van die spel. Hy het my ook bekend gestel aan Charles Fortune se krieketkommentaar en tot vandag toe glo ek dat Charles een van die heel beste was.

Maar ek sou darem graag `n foto van daardie Vanwyksvlei-krieketspan van 1957/58 wou hê!!

No comments:

Post a Comment