Sunday, November 6, 2011

Die geheimsinnige verdwyning van Tollie Burger

Deur Schalk Burger:

Sy naam is Carel Johannes Burger maar Pa het hom kleintyd die bynaam van Jan Tol gegee wat later Tollie geword het.  Ons het hom soms Tollie Hans genoem en Osman, die een swart boorman wat my pa gehad het, het hom Lampierook genoem omdat hy so maer was.  Hy het gesê as ’n mens ’n deur sien oopgaan en weer toegaan sonder dat jy iemand sien in- of uitgaan dan moet jy weet Lampierook het in- of uitgegaan.
In die Junie skoolvakansie van 1965 het Tollie en ’n paar van sy pêlle op die panne gaan fietsry. (Een van die skuldiges was ook ons webmeester, VDS Brink!)  Daar was oral prospekteer gate vir gips en party van hulle was toegegooi maar nie almal nie.  Die gate was omtrent twee meter lank by een en ’n half meter breed en een en ’n half meter diep.  Hulle het oor die toegegooide gate se walletjies gejaag en as hulle teen die walletjie opry lê hulle so ’n bietjie agteroor en dan vlieg hulle so ’n klein entjie deur die lug.   
Pa en Ma sou die volgende dag Kimberley toe gaan om vir Oupa Herman Venter te gaan kuier.  Die manne ry so ’n rukkie en dan stop hulle weer om asem te skep en te gesels.  Met een van hierdie stoppe gewaar Tollie ’n entjie weg ’n lekker hoë wal en hy vlieg daar weg met sy fiets.  Die ander manne skree ’n waarskuwing vir hom maar hy kon nie hoor wat hulle sê nie en trap die fiets dat sy wiele so sing.  
Dit was toe al die tyd ’n oop gat en hy jaag oor die walletjie, vlieg deur die lug en tref die oorkantste kant van die gat en val met fiets en al in die gat en daar lê hy bewusteloos.  Die ander manne is vinnig by en haal hom en die fiets uit die gat uit maar hulle kom agter hy is nie lekker nie.  Tollie vra hulle hoe lank hy daar in die gat gelê het en hulle sê “’n paar dae”.  Hy vra of Pa en Ma al Kimberley toe was en hulle sê: “ja en hulle is al weer terug”.  Tollie moes ’n ligte harsingskudding gekry het want dit het later jare op ’n breinskandering gewys. 


No comments:

Post a Comment