Sunday, October 30, 2011

Soos 'n Koeel uit 'n geweer: Die Webley - Schalk Burger

DIE VERHAAL VAN `n WEBLEY

Toe die Rebellie in 1914 uitbreek, het my pa, Flip Burger, op Springbokoog in die Vanwyksvlei-distrik gebly. Sy pa, Jan Burger, het in 1908  met sy gesin (daar was nege kinders) vanaf Victoria-Wes na Springbokoog getrek. Oupa Jan en ouma Annie se derde seun, Johannes, het intussen by die Polisie aangesluit en met die uitbreek van die Rebellie was hy `n lid van die Regeringsmagte wat by Vanwyksvlei verbygetrek het agter rebelle aan. Dit was hier waar die jong Johannes besluit om uit die Regeringsmagte te dros. Sy lojaliteit het waarskynlik meer by die rebelle gelê. Hy het hom op Springbokoog by sy familie aangesluit en toe hy weer vertrek sy diensrewolwer aan sy oudste broer Flip toevertrou.

In 1928 het Flip Burger met sy gesin na die plaas De Naauwte getrek. Die plaas het sy naam te danke aan die breë Carnarvonleegte wat op die plaas deur `n smal kanaal (die noute) tussen twee koppies loop. Dit was op De Naauwte waar ek as jong seun by `n paar geleenthede die .455 kaliber Webley-rewolwer kon bewonder wanneer my pa dit uitgehaal en skoongemaak het. Een keer kan ek onthou, het hy `n skoot na `n voël op die werf geskiet en was baie verontwaardig toe hy mis.

In 1955 het ons dorp toe getrek nadat my ouer broers Hannes en Flippie die boerdery oorgeneem het. Die Webley het saamgegaan en rustig in die kluis toegesluit gebly. Tot in 1961. In daardie tyd het die regering `n algemene amnestie aan vuurwapeneienaars aangekondig. Alle ongelisensieerde vuurwapens kon sonder enige vrese vir agtervolging gelisensieer word. Daarna sou daar egter streng opgetree word teen eienaars van ongelisensieerde vuurwapens.

My pa moes `n besluit neem. Hy was `n uiters wetsgehoorsame burger maar aan die ander kant was daar die skande dat die owerheid  uiteindelik sou weet dat hy al daardie jare `n onwettige vuurwapen in sy besit gehad het. Vir hom was daar eintlik nie `n keuse nie – hy moes ten alle koste van die wapen ontslae raak. My ma het hom nog tot ander insigte probeer bring maar hy het onverbiddellik sy besluit geneem. Die enigste vraag was hoe raak jy daarvan ontslae?

Die Vanwyksvleidam, wat in 1884 voltooi is, word hoofsaaklik deur die Carnarvonleegte gevoed maar omdat die Carnarvonleegte selde in vloed is, het die dam selde water. Behalwe in 1961. In daardie jaar het dit in die Karoo gereën soos selde vantevore. En die Carnarvonleegte het afgekom en die dam was vol en het selfs oorgeloop. En dit is toe dat my pa besluit waar die finale rusplek van die Webley sou wees – onder die waters van die Vanwyksvleidam. Op `n dag het hy en my ma dam toe gery, hy het uit die motor geklim en langs die wal afgestap tot omtrent so halfpad. Daar het hy die rewolwer die dam ingeslinger en daarna die patrone, een vir een. Die saak was afgehandel. Die Webley het sy laaste rusplek in die sagte slik van die dam gevind.

Vanwyksvleidam ca. 1935


`n Paar jaar later hoor Philip de Bruyn van Nuwedam by my broer Flippie die storie van die Webley se watergraf. Philip het op daardie stadium ou wapens versamel en besluit op die plek om die Webley te gaan soek. Soos gewoonlik is die dam dolleeg. Maar waar begin soek jy? Hy redeneer toe so: die toon van die damwal is nogal ver van die kruin af en `n ou man sou die rewolwer nie veel verder as die toon van die damwal kon gooi nie. Hy begin stap toe al langs die toon van die wal af. Wat sal mens na al die jare sien? Miskien `n holtetjie in die slik? Of dalk steek daar nog iets bokant die slik uit. Uiteindelik sien hy dit - `n roeskol in die slik. Kan dit dalk die Webley wees? Hy begin grawe en sowaar, daar is hy – geroes maar herkenbaar as `n Webley en kompleet met die hanepootteken wat aandui dat dit regeringseiendom was. Met die hulp van Sersant van der Merwe van die Vanwyksvlei-polisiestasie kry hy `n permit vir die rewolwer en na vyftig jaar is die Webley weer wettig! 

Die .455 Webley, nou in Philip de Bruyn se besit


Schalk Burger

No comments:

Post a Comment