DIE
VERHAAL VAN `n WEBLEY
Toe die Rebellie
in 1914 uitbreek, het my pa, Flip Burger, op Springbokoog in die
Vanwyksvlei-distrik gebly. Sy pa, Jan Burger, het in 1908 met sy gesin (daar was nege kinders) vanaf
Victoria-Wes na Springbokoog getrek. Oupa Jan en ouma Annie se derde seun,
Johannes, het intussen by die Polisie aangesluit en met die uitbreek van die
Rebellie was hy `n lid van die Regeringsmagte wat by Vanwyksvlei verbygetrek
het agter rebelle aan. Dit was hier waar die jong Johannes besluit om uit die Regeringsmagte
te dros. Sy lojaliteit het waarskynlik meer by die rebelle gelê. Hy het
hom op Springbokoog by sy familie aangesluit en toe hy weer vertrek sy
diensrewolwer aan sy oudste broer Flip toevertrou.
In 1928 het Flip
Burger met sy gesin na die plaas De Naauwte getrek. Die plaas het sy naam te
danke aan die breë Carnarvonleegte wat op die plaas deur `n smal kanaal (die noute)
tussen twee koppies loop. Dit was op De Naauwte waar ek as jong seun by `n paar
geleenthede die .455 kaliber Webley-rewolwer kon bewonder wanneer my pa dit
uitgehaal en skoongemaak het. Een keer kan
ek onthou, het hy `n skoot na `n voël op die werf geskiet en was baie verontwaardig
toe hy mis.
In 1955 het ons
dorp toe getrek nadat my ouer broers Hannes en Flippie die boerdery oorgeneem
het. Die Webley het saamgegaan en rustig in die kluis toegesluit gebly. Tot in 1961.
In daardie tyd het die regering `n algemene amnestie aan vuurwapeneienaars
aangekondig. Alle ongelisensieerde vuurwapens kon sonder enige vrese vir
agtervolging gelisensieer word. Daarna sou daar egter streng opgetree word teen
eienaars van ongelisensieerde vuurwapens.
My pa moes `n besluit neem. Hy was `n
uiters wetsgehoorsame burger maar aan die ander kant was daar die skande dat die
owerheid uiteindelik sou weet dat hy al
daardie jare `n onwettige vuurwapen in sy besit gehad het. Vir hom was daar
eintlik nie `n keuse nie – hy moes ten alle koste van die wapen ontslae raak.
My ma het hom nog tot ander insigte probeer bring maar hy het onverbiddellik sy
besluit geneem. Die enigste vraag was hoe raak jy daarvan ontslae?
Die
Vanwyksvleidam, wat in 1884 voltooi is, word hoofsaaklik deur die
Carnarvonleegte gevoed maar omdat die Carnarvonleegte selde in vloed is, het
die dam selde water. Behalwe in 1961. In daardie jaar het dit in die Karoo gereën soos selde vantevore. En die Carnarvonleegte
het afgekom en die dam was vol en het selfs oorgeloop. En dit is toe dat my pa
besluit waar die finale rusplek van die Webley sou wees – onder die waters van
die Vanwyksvleidam. Op `n dag het hy en my ma dam toe gery, hy het uit die
motor geklim en langs die wal afgestap tot omtrent so halfpad. Daar het hy die
rewolwer die dam ingeslinger en daarna die patrone, een vir een. Die saak was
afgehandel. Die Webley het sy laaste rusplek in die sagte slik van die dam gevind.
Vanwyksvleidam ca. 1935
`n Paar jaar
later hoor Philip de Bruyn van Nuwedam by my broer Flippie die storie van die
Webley se watergraf. Philip het op daardie stadium ou wapens versamel en
besluit op die plek om die Webley te gaan soek. Soos gewoonlik is die dam
dolleeg. Maar waar begin soek jy? Hy redeneer toe so: die toon van die damwal
is nogal ver van die kruin af en `n ou man sou die rewolwer nie veel verder as
die toon van die damwal kon gooi nie. Hy begin stap toe al langs die toon van
die wal af. Wat sal mens na al die jare sien? Miskien `n holtetjie in die slik?
Of dalk steek daar nog iets bokant die slik uit. Uiteindelik sien hy dit - `n
roeskol in die slik. Kan
dit dalk die Webley wees? Hy begin grawe en sowaar, daar is hy – geroes maar
herkenbaar as `n Webley en kompleet met die hanepootteken wat aandui dat dit
regeringseiendom was. Met die hulp van Sersant van der Merwe van die
Vanwyksvlei-polisiestasie kry hy `n permit vir die rewolwer en na vyftig jaar
is die Webley weer wettig!
Die .455 Webley, nou in Philip de Bruyn se besit
Schalk Burger
No comments:
Post a Comment