Deur Schalk Burger:
Sy naam is Carel Johannes Burger maar
Pa het hom kleintyd die bynaam van Jan Tol gegee wat later Tollie geword
het. Ons het hom soms Tollie Hans genoem
en Osman, die een swart boorman wat my pa gehad het, het hom Lampierook genoem
omdat hy so maer was. Hy het gesê as ’n
mens ’n deur sien oopgaan en weer toegaan sonder dat jy iemand sien in- of
uitgaan dan moet jy weet Lampierook het in- of uitgegaan.
In die Junie skoolvakansie van 1965
het Tollie en ’n paar van sy pêlle op die panne gaan fietsry. (Een van die skuldiges was ook ons webmeester, VDS Brink!) Daar was oral prospekteer gate vir gips en
party van hulle was toegegooi maar nie almal nie. Die gate was omtrent twee meter lank by een
en ’n half meter breed en een en ’n half meter diep. Hulle
het oor die toegegooide gate se walletjies gejaag en as hulle teen die
walletjie opry lê hulle so ’n bietjie agteroor en dan vlieg hulle so ’n klein
entjie deur die lug.
Pa en Ma sou die
volgende dag Kimberley toe gaan om vir Oupa Herman Venter te gaan kuier. Die manne ry so ’n rukkie en dan stop hulle
weer om asem te skep en te gesels. Met
een van hierdie stoppe gewaar Tollie ’n entjie weg ’n lekker hoë wal en hy
vlieg daar weg met sy fiets. Die ander
manne skree ’n waarskuwing vir hom maar hy kon nie hoor wat hulle sê nie en
trap die fiets dat sy wiele so sing.
Dit
was toe al die tyd ’n oop gat en hy jaag oor die walletjie, vlieg deur die lug
en tref die oorkantste kant van die gat en val met fiets en al in die gat en
daar lê hy bewusteloos. Die ander manne
is vinnig by en haal hom en die fiets uit die gat uit maar hulle kom agter hy
is nie lekker nie. Tollie vra hulle hoe
lank hy daar in die gat gelê het en hulle sê “’n paar dae”. Hy vra of Pa en Ma al Kimberley toe was en
hulle sê: “ja en hulle is al weer terug”.
Tollie moes ’n ligte harsingskudding gekry het want dit het later jare
op ’n breinskandering gewys.
No comments:
Post a Comment