Izak Smit:
Daar is seker nog van die ouens, wat
selfs ouer as ek en my klasmaats is, wat die geleentheid het om te kan meedoen
aan die herinneringe uit ons prille jeug. Almal vertel en dis lekker om dit te
lees.
Oor die skool onthou ek van oom
Jasper wat altyd die houertjie met die kaas of die appels voor pouse kom
neersit het. Ook hoe hy vir ons van die stoep af 'n paar ekstras kom aangooi
het. Die meisies moes oom Jasper se sterk twak se ruik meer as ons seuns
onthou, want hulle het elke dag daar langs geloop.
Van die sangklasse het ek gehou al
het ek nou nie 'n groot sanger geword nie. Verder onthou ek van die flieke wat
ons in die skool gekyk het. Ek sal die ontkieming van die
boontjie nooit vergeet nie! Wat status aanbetref - dit was die st.8-manne wat
die projektor en luidsprekers moes opstel, ook by die fliek in die kerksaal.
Ons het gewoonlik taamlik voor gesit en ek onthou ek altyd gesorg het dat ek
langs Winston gesit het sodat ek hom kon vra "Wat se hulle nou?"
Van die rugby en netbal dat ons ons
dae omgeoefen het en pale toe geskop het asof dit uit die mode sou raak. Verder
dat ek in st.8 al vir die dorp gespeel het!
Verder onthou ek van die
boeresportdae waar daar perderesies en gimkana was en ons ook geharloop het.
Oom Gert le Roux was die aankondiger sonder 'n mikrofoon of megafoon. Ook van
Sondae wat ek by die koshuisseuns gaan kuier het en hoe ons dan gaan donkies
vang en gery het. Natuurlik het ons af geval en seker seergekry ook.
En hoe ek dan by die huis gekom het
met my navyblue kortbroek vol donkiehare en stof.
Veder onthou ek dat ek 'n getroue
lid van die biblioteek was wat 2 Engelse en 2 Afrikaanse boeke per week gelees
het. Ons het baie fiets gery, daar was mos maar nie baie ander afleiding nie.Ons het oor en weer gekuier - ek
gereeld by lang Schalk Burger. Sy broer,Flippie, het vir ons gedemonstreer hoe
om 'n gholfbal oor die telefoondraad te slaan, wat ons probeer nadoen het.Ek
wil kom by die gholfbal- hoe ek een middag met die gholfbal hulle huis se
voorruit uitgedrop het. Ons was maar vrek bang vir sy Pa.Daar was gelukkig nog
van die glas en hy het dit vervang sonder dat hulle dit agtergekom het.
No comments:
Post a Comment