Thursday, October 13, 2011

Nico Hanekom

(Waarskuwing: dis nie vir sensitiewe lesers nie, maar dit stuur af op ‘n gelukkige einde.)
Hulle het tot vandag toe ‘n invloed op wie jy en ek is. Meneer Krynauw, Meneer De Wet, Juffrou van Greunen, Juffrou Reitz..... Dan was daar Meneer Steenkamp..meer daaroor later, maar die ene vir nou is ...Meneer Hanekom, Nico Hanekom.
 
Hy het van die Weskus gekom, ek dink Moorreesburg, en het nooit die aksent afgeleer nie. Al wat hom die loef kon afsteek met die uitspraak was Meneer Hoffman, maar dis ook ‘n ander storie..

Hy was so ‘n rooi ou en was met Tannie Elize getroud. Woon toe net langs die polisiesersant in die straat wat van die poskantoor af geloop het. Hy het met ‘n blougrys Peugeot 303 gery en het boekhou, Afrikaans, tennis, atletiek en rugby aangebied.
In Standerd 4 het ons paaie gekruis: die houtwerkklas en rugby. Beide ‘n nagmerrie. Jy kan skaaf of jy kan nie, jy kan ‘n bal vang of jy kan nie. As jy beide nie kan doen nie, dan staan jy agter in die tou..

Ons geliefde meneer het aan my kom krap, jare later baie daaroor gewonder wat die rede moes  wees. Dalk dat hy altyd 2e moes kom teen “slimmer” mense. Hy het nie ‘n graad gehad nie. Dalk dat my ma ook daar gewerk het, wie weet.. maar op ouderdom 11 het dit pynlik gereeld na my gekom.

Die feit dat my broer amper so oud soos ek was en die oulikheid self is, het ook nie veel bygedra tot ons verhouding nie.

In standerd 5 het dit sleg begin word en ek het teen hom begin rebelleer. Ons doen toe in die kerksaal liggaamsoefeninge, daardie dag was die kopwip die gekose marteling. Min ander in standerds 4 & 5 kon dit doen, ek natuurlik ook nie.  Toe ek soos ‘n sak sand oorrol toe sê hy: “Jy sal dit nooit reg kry nie, jy sal nooit soos Van Zyl wees nie”

Net daar verloor ek my humeur en stap na hom toe voor die verdwaasde kinders. Skree al my opgekropte woede op hom uit, “En wat daarvan? Hoekom pik jy altyd net op my? Wie dink jy is jy?!!”

Hy haak af en slaan my teen my kop dat ek rol op die vloer. Ek staan op, loop tot voor hom, hande in die sye en gluur vir 30 sekondes.

Die rebellie word verder onderdruk deur 6 van die beste in Meneer Morkel se kantoor.

My lewe verander. Ek is die held op die speelgrond. Kontrakteer vir die handige Louis Jordaan om my houtwerk se komplekse stukkies te doen in ruil vir die middag boekhou huiswerk. My houtwerk is die mooiste en altyd voor die ander klaar. "If you can not make it, then fake it!"

Hy los my uit, maar merk my boekhou en Afrikaans aggresief sleg. My hele motivering is om hom verkeerd te bewys en kry die beste punt van almal. Word die top atleet.. 

Die oorlog hou aan en aan.. ek vang hom selfs uit dat hy knoei met vraestelle, dit word my troefkaart en hy los my uit. Hy ignoreer my tot my vreugde op die rugbyveld en in die klas. Ek wys twee vingers na hom en kry net die A simbole, druk al die driee en word eenparig as atletiekkaptien verkies met goue medaljes vir alles in die interskole behalwe gewigstoot! Elke keer "mock" ek hom met my lyftaal...hy haat my.

Krieket word verbied in Standerd 7 omdat dit met atletiek sou inmeng. Ek gaan dadelik en kry 'n klompie mede moeilikheidmakers en ons boul en kolf dwars oor die wegspringplek! Weer 6 van die beste wat ek met 'n glimlag ontvang en luide toejuiging op die speelgrond ontvang.

Hy word my "common enemy", ek glo in myself en weet dat om klein, stadig, dom en lelik te wees jou nie hoef terug te hou nie.

Ons groet die onderwysers in standard 8. Ek loop eenvoudig by hom verby. Sien hom nooit weer nie. Dis 1968..

Dekades later, Saterdag 9 Oktober 2005, 54 jaar oud en staan daar agter Koeëlkop...kyk na sy graf .. en ek verstaan dit toe eers, verstaan dat alhoewel hy dit dalk nie so bedoel het nie, sy impak op my so wonderlik groot was, want maklik groot word gaan ons nie help nie, ons het die dwarsklappe nodig...

ek het gehuil...








1 comment: