Tuesday, October 18, 2011

The Superior Race.

Die “Superior Race” woon op ‘n eilandjie die helfte so groot soos die Vrystaat. Tog het hulle 100 jaar gelede die helfte van die aardbol beset. Hulle taal word deur 400 miljoen mense gepraat met nog 1.8 biljoen wat dit as tweede taal praat. Vandag is 80% van alles wat deur die lug trek: Engels.

Die ouens weet hoe om dinge te doen. Hulle is inderdaad soos hulle self ook glo, die superras. Dan die gewoonte gehad om plekke te beset op die uithoeke en van daar hulle mag uit te bou. As jy een sou doodskiet, dan begrawe hom net daar en sit ‘n monument op:”For King and Country..”

So het hulle hul strepies vlag gaan hys in Kaap Hoorn, Walvisbaai, Simonstad, Singapoer, Hong Kong, Malta, Mafekeng en...Vanwyksvlei!!

Whites, Eastons, Jellimans en die interessante Alstons. Die Whites en Eastons het tot ander insigte gekom en sommer hulself sommer Floors en Piet genoem. Ook hul rug gedraai op die Bloedsappe en oor die kulturele afgrond gespring, Chev karre gekoop, by Boere Saamwerk Beperk aangesluit en die 160km na Volkskas aangedurf.

Dit was juis ‘n Easton wat my op ouderdom 18 ingewag het met ‘n Nasionale Party lidmaatskap vorm, “Welkom by ons! Ons is trots om jou as lid te verwelkom. Oom sal sommer jou ledegeld vir die hele jaar betaal...”

“Maar oom,” Antwoord ek sy verbasing. "Ek het net laas week in die Kaap by die Progressiewe Party aangesluit en hulle betaal sommer vir twee jaar!”  

Politieke opportunisme!!
  
Die Jellimans en Alstons het vas bly kleef aan Queen’s English. Die Jellimans het op pad Brandvlei toe geboer.  Toe tot almal se bewondering ‘n straight six, 180 perdekrag, metaal blou, Cessna 172 Skyhawk  aangeskaf.

Vir elke sakkie meel gou dorp toe gekom en sommer op die pad langs die rugby veld geland. Dan onder luide toejuiging van ons almal lawaaierig ge-taxi tot by Max Kupfer & Co en sy sakkie kruideniersware verkry. Die lewe was mooi !

...op ‘n koue stormagtige Donderdag in Augustus 1966 sterf al vier lede van die gesin wreed teen ‘n sneeubekte Roggeveld berg naby Sutherland....

Terug tot die Alstons. Dit was die aartsvader, Garwood, wat al die pad na hierdie uithoek van die empire gekom het om geskiedenis te kom maak. Hy was ’n landmeter en het dadelik die kans raak gesien  om ‘n reuse dam te bou. Dit word toe sommer die eerste dam wat die regering ooit in ons mooi land gebou het. Die geboorte van die Departement van Waterwese!

Garwood het een foutjie gemaak, hy het nie gedink aan die skamele 100mm wat as jy gelukkig per jaar geval het nie.


Sy seun was Herbert en GW Alston General Dealer is gebore. Die se seun was weer oom Arthur en net hier moet ons storie nou rigting begin kry.

Hy is getroud met Tannie Maude. Sy was weer die dogter van Ds Mynhardt wat in die 20s die kuddetjie bearbei  het. Die een broer, Siegfried,  het ‘n beroemde akteur geword en die ander een Felix ‘n bybel kenner en skrywer. Haar suster Tannie Ursula het ook op die dorp agter gebly. Word Avenant en bedryf ‘n hotel, ‘n winkel (J Gerber en Kie), en ‘n petrolstasie (dis nou die een wat in vlamme opgegaan het).


Oom Arthur was altyd effe aan die kant van dinge. Hy het almal ontstig met stellings soos: ”Om met skape te boer neem so twee ure per week, vir die res kan jy ander goed doen."

Elke Sondag ry hy dan Kwaggaskolk toe spandeer presies twee ure en die besigheid het mooi gewerk. Hy was my eerste kennismaking met “futures trading”. Kry drie keer per week die Cape Argus (4 dae laat), plot ingewikkelde grafieke en maak prys voorspellings. Die boere weet dat hulle by hom ‘n vaste prys kan kry en hy weer speel die vleis markte landwyd en verkoop sy skape wanneer pryse hemelhoog is.

Die 4 seuns is slim sommer baie slim, twee dokters, een kernfisikus en een siviele ingenieur. Winston gebore in die oorlog jare en vernoem na jy-weet-wie en Wesley na 'n geestelike van naam. Timmy en Cedric sekerlik na ander beroemde onderdane van Her Majesty.

Toe, in 1966, los hy alles en ry al die pad Maseru toe om vir laas Britse grond onder sy voete te voel en op te kyk na die Union Jack!

Onlangs werk ek saam met ‘n slimme dame saam by Unisa.. haar van? Alston!! Sy vertel lieflike verhale van die oupa wat sy gehad het wat haar hele lewe beinvloed het.

Hy sit selde sy voete in die kerk...


Die dominee is alleen, baie alleen in ‘n gemeenskap waar daar ook sy onderstrominge was en Arthur Alston word die immer teenwoordige vriend. Elke middag na die poslorrie gekom het, stap die Dominee oor gevolg deur sy foksterrier (boetie van Terry oorkant die straat) en die Burger en Cape Argus word uitgeruil en bespreek.


Die Oom kom nooit in die pastorie nie, behalwe as hy hoor dat iemand siek is, dan trek hy by ons in tot alles eers onder beheer is.

Arthur was op sy manier ‘n beste voorbeeld van vriendskap wanneer dit regtig saak maak. In ons familie sal ons dit nooit vergeet nie.

Miskien juis so sy merk van liefde gemaak..





3 comments:

  1. Ek kan onthou dat 'n bruinman eendag iets vertel het en gesê het dat hy een of ander iets by 'baas Aster se winkel gekoop het' - my kinder-humorsin het dit baie waardeer...

    ReplyDelete
  2. Ek het jou storie via Leonette Smit gelees, en baie geniet. Dit is "onse " mense...

    ReplyDelete